SUID-AFRIKA – Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het vandag aangekondig dat die verbod op die byeenkoms van diere nou opgehef word.
Dit volg nadat bek-en-klouseer drie maande gelede in die Molemole-distrik, in Limpopo, uitgebreek het.
Didiza sê: “Daar is voorwaardes vir die hervatting van veilings. Veilings word slegs onder streng voorwaardes gedoen. Alle vee-agente moet by die landbouprodukte-agenteraad (Apac) geregistreer wees.”
“Alle Apac-sertifikate wat voor 2 Maart 2018 uitgereik is, het verval en hernuwing moet voor of op 30 Maart 2020 gedoen word. Ek moedig daarom alle vee- en wildhandelaars aan om Apac te kontak vir herregistrasie voordat besigheid hervat word,” sê Didiza.
Die opheffing van die tydelike verbod op die saambring van diere impliseer nie dat sulke aktiwiteite veilig is nie. Die minister raai alle afslaers aan om hulself te vergewis van die uitvoermaatreëls om te voorkom dat hul diere besmet raak.



