JHB na KBY vlug word ure later verwelkom

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Die vlug vanaf Johannesburg na Kimberley wat 18:00 moes land, maar in Bloemfontein geland het, styg eers 20:40 die lug in.

Karin Murray, woordvoerder van Airlink, sê die verdere vertraging van die vlug is danksy die kragonderbreking by die Kimberley-lughawe. “Die rugsteun-krageenheid het probleme gegee toe die Kimberley-lughawe ’n kragonderbreking ervaar. Dit het ook die vlug vanuit Kimberley wat om 18:20 na Kaapstad moes vlieg, vertraag.”

Die oorspronklike rede waarom die vlug vanaf Johannesburg na Kimberley vertraag was, is as gevolg van die hewige donderstorms in Kimberley.

Murray sê dit is standaardprosedure vir ’n vlug om by die naaste lughawe te land indien die weer onstuimig is. Die situasie word dan geassesseer en die vlug sal dan na die oorspronklike lughawe terugkeer sodra die weersomstandighede dit toelaat.

Die kragonderbreking is ’n situasie buite Airlink se beheer.