Bye is perfek daarvoor aangepas om te bestuif. Die bestuiwing help weer op sy beurt om plante te laat groei en voedsel te laat produseer. Die bestuiwing vind plaas wanneer stuifmeel tussen blomplante oorgedra word en sodoende die lewensiklus laat voortbestaan. Die oorgrote meerderheid plante wat ons benodig vir voedsel, is afhanklik van bestuiwing, veral deur bye.
Bye is nie net baie belangrik vir mense nie, maar ook vir verskeie ekosisteme om te kan funksioneer. Bye laat plante voortbestaan deur bestuiwing.
Een derde van ons wêreldwye voedselvoorraad word deur bye
bestuif. Eenvoudig gestel, bye hou plante en gewasse lewendig. Sonder bye sal
die mens nie veel hê om te eet nie. Bye is belangrik vir mens, dier en plant se
voortbestaan, daarom moet ons harder werk om hulle te beskerm en te bewaar.
Sonder bestuiwers sal die aantal gewasse wat ons het baie ernstig afneem.
In elke aspek van die ekosisteem speel bye ’n rol. Bye ondersteun die groei van bome, blomme en ander plante, wat as voedsel en skuiling vir alle soorte gediertes dien.
Heuningbye het egter ’n baie groter invloed op ons lewe.
Heuningbye versamel stuifmeel en nektar vir hul oorlewing. Sommige gewasse, insluitend bloubessies en kersies, is 90% afhanklik van bestuiwing. Amandels weer is heeltemal afhanklik van die heuningby vir bestuiwing tydens blomtyd.
Elbert Einstein het gesê: “Indien bye van die aarde af verdwyn, sou die mens nog net vier jaar kon oorleef.”
Heuning het ’n geheue
Die algemeen gebruikte term “genetiese geheue van heuning” word gebruik om ’n verskynsel te beskryf waardeur egte heuning onder vlak, geroerde water ‘n patroon verkry. Die patroon is ‘n onreëlmatige seshoek wat vaagweg aan die patroon van ’n heuningkoek herinner.
Die antioksidantkrag van heuning
Heuning help om die liggaam teen siektes en ontsteking te beskerm. Dit stimuleer die immuunstelsel. Heuning is ook ryk aan antioksidante wat die brein voed en breinkrag verbeter.



