POTCHEFSTROOM – Die soektog na die ontvoerde 15 maande oue baba van Jouberton deur die polisie, ongeveer 50 lede van die gemeenskap en ’n plaaslike raadslid, het op 13 Februarie 2020 tot ’n einde gekom. Die soektog het gelei na die grusame ontdekking van haar ontbinde liggaam wat onder ’n rots versteek is.
Lt.-genl. Sello Kwena, die provinsiale kommissaris van die Noord-Wes, sê na bewering is die baba op 1 Februarie 2020 omstreeks 20:00 ontvoer. “Die baba se ma het gelê en slaap, maar het wakker geskrik en besef dat daar ’n vreemde persoon in hul woning is. Die verdagte het die baba gegryp en gevlug.”
Die verdagte is nie na die voorval gesien nie en ’n saak van ontvoering is aanhangig gemaak.
Sedert die baba se verdwyning het die polisie die soektog op verskeie sosialemedia-platforms, waarvan Amber Alert een is, bekendgemaak.
Na die baba se lyk gevind is, word ’n saak van moord ondersoek.
Nog niemand is in hegtenis geneem nie.
Enigiemand met inligting wat die polisie kan help met die ondersoek, word versoek om die ondersoekbeampte, kapt. Kagiso Disipi, by 0828561748 te skakel.



