Ware verhaal van ’n vreemde verdwyning – deel 4

Deel hierdie storie / Share this story

Het jy al gehoor van, of weet jy van iemand wat spoorloos verdwyn het? Daar is baie gevalle regoor die wêreld van mense wat net spoorloos verdwyn en nooit weer opgespoor word nie.

Een so ’n geval wat Suid- Afrika aan die gons gehad het, is Nosisa Hlanjwa (36), wat in 2019 saam met haar 5-jarige tweeling spoorloos verdwyn het.

Raaisel

Hlanjwa het op 14 Augustus 2019 saam met haar kinders spoorloos uit hulle huis in Germiston verdwyn. Die raaisel om die verdwyning is aangevuur deur die toestand waarin hul huis gevind is nadat hulle laas gesien is. Na bewering het Hlanjawa kos gemaak voordat sy verdwyn het. Die kastrolle gevul met hoender en pap het nog op die stoof gestaan. ’n Koue koeldrank uit die yskas is op die kas gelos. Al die familie se klere was nog in die kaste en geen van hulle besittings was weg nie.

Geen leidrade

Hierdie saak is buitengewoon omdat daar sedert die tyd wat Hlanjwa as vermiste persoon gerapporteer is, geen inligting ontvang is nie. Normaalweg kry die polisie telefoonoproepe wat leidrade gee, eis vir ’n losprys en selfs vals alarms, maar dit is nie die geval met Hlanjwa nie.

Na bewering het Hlanjwa planne gehad om op die dag van haar verdwyning iemand te ontmoet, maar het nooit opgedaag nie. Die persoon se identiteit is beskerm, maar ’n verklaring is by die polisie afgelê.

Hlanjwa was werkloos met die tyd van haar verdwyning. Polisie het die saak as buitengewoon en uitdagend beskryf.

Hlanjwa en haar tweeling is tot op hede nie opgespoor nie. Daar is ook geen verskynings van haar gerapporteer nie.