KIMBERLEY- Op 11 Februarie 2020 is die man wat die dwelmhuis in Andersonstraat in West End bestuur het, in hegtenis geneem.
Brig. Mohale Ramatseba, woordvoerder van die polisie in Kimberley,sê: “Byna ’n maand na die polisie op ’n dwelmhuis toegesak het, is daar op ’n reusebedrag dwelms met meer as R2,7 miljoen se waarde beslag gelê. Die Valke het na hul ondersoek ’n verdagte in Kimberley aangehou.”
Chibugo Ezeh (31), die verdagte, is in hegtenis geneem. Hy het daarna ’n vlugtige verskyning in die landdroshof in Kimberley op ’n aanklag van dwelmhandel gemaak.
Op 18 Januarie 2020 het die polisie kristalmetamfetamien en khat in die huis in Andersonstraat gekry. Daar is nog geen verdagte in hegtenis geneem nie. Die saak is na die Valke vir verdere ondersoek verwys. Verdere ondersoeke deur die georganiseerde misdaadspan het Ezeh aan die misdaad gekoppel.
Ezeh se prokureur het hom op 11 Februarie aan die span oorhandig. Hy word in aanhouding gehou.
Sy aansoek om formele borgtogaansoek vind vandag plaas.



