Laerskool Eureka: Poging tot ontvoering?

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Heilie van Ingen-Kal vertel hoe sy vanoggend ongeveer 11:40 deur twee mans in ‘n verdagte kar in die straat voor Laerskool Eureka voorgekeer is. Sy wil graag ander ouers waarsku om hul motors te alle gesluit te hou en op die uitkyk vir gevaar te wees.

Van Igen-Kal het gesê sy het ‘n bietjie vroeër as gewoonlik na die skool toe gegaan om haar kinders se skoolfonds te betaal en dus was sy teen die tyd dat sy by die skool was, die enigste een daar. 

“Ek het my kar buite die skool parkeer en gou ingegaan om my kinders se skoolfonds te betaal. Ek het my dogters van vier maande en twee jaar saam met my geneem. Toe ek uitkom en my twee dogtertjies in hul karstoeltjies vasmaak, het die een man by die wit kar uitgeklim en na my geroep.”

Volgens Van Ingen-Kal het die man in Engels vir haar gesê sy word oor die skool se interkom geroep. Die man het glo aangehou om vir haar te sê sy moet gaan hoor wat hulle soek.

“Ek dink hy het gedink ek gaan my kinders in die kar los om te gaan hoor wat aangaan.”

Van Ingen-Kal het toe sy in haar kar geklim het, dadelik die skool se kantoor gebel om hulle van die verdagte kar in kennis te stel. Sy sê die verdagte kar het oombliklik weggery toe die mense van die skool uitkom om na die kar te kyk.