Rand bepaal brandstofprys in 2020

Deel hierdie storie / Share this story

SUID-AFRIKA – Terwyl die internasionale oliemark stabiel bly, gaan die rand die grootste rol speel in die prys van brandstof hierdie jaar, sê die Automobiel-Assosiasie (AA).

“Faktore wat die brandstofprys beïnvloed, is selde fyner gebalanseer as wat dit nou is,” sê die AA.

Die AA merk op dat baie van die wêreld se olie in van die mees polities gedrewe gebiede geproduseer word en Suid-Afrika se invloed op die internasionale prys van ru-olie is onbenullig.

Die AA sê: “Ons verbruik minder as een persent van die wêreld se daaglikse aanvraag na ru-olie. Selfs ’n totale boikot van petroleumbrandstowwe in Suid-Afrika sal waarskynlik nie wêreldpryse beïnvloed nie en daarom het die land min invloedruimte. Die onlangse spanning tussen Iran en die VSA het die markte geruk in ’n prysstyging van etlike dollar per vat, wat wys waar die invloed werklik lê.”

Volgens die AA is die ekonomiese beleid in Suid-Afrika die grootste probleem die afgelope paar jaar in die land. Die vereniging sê dat belastingopgawes, onderbesteding aan infrastruktuur, deïndustrialisering en voortdurende kragonderbrekings teenspoed vir president Cyril Ramaphosa se versoek om beleggings beteken het.