Dieremishandeling: “Dit was iets verskrikliks…”

Deel hierdie storie / Share this story

BOSHOF – Die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging het onlangs op ’n verskriklike geval van dieremishandeling by ’n teler op Boshof afgekom.

“Ons het by die Boshoff-polisiekantoor gestaan en wag vir ’n klagte van ’n ander saak. Ons kon die reuk van ontlasting duidelik in die lug ruik. Ons kon ook honde hoor blaf. Ons het toe geloop na die huis waar ons die honde hoor blaf het. Toe ons by die huis aankom, het ons drie groot windhonde en vier klein windhonde gesien. Hulle was kniediep in die ontlasting en was sonder enige water,” vertel Duan Matthee, inspekteur by die Bloemfonteinse dierebeskermingsvereniging.

Volgens Matthee het die eienaar uitgekom en gesê hy teel met die windhonde en dat hy nie die dag kans gekry het om skoon te maak nie. Die eienaar het geweier om hulle by sy huis te laat inkom om na die honde te kyk. Matthee sê hy het toe van buite gesien hoe ’n jong man ’n hond aan sy bene rondsleep.

“Binne tien minute het ons ’n lasbrief van die hof gekry en kon ons by sy erf ingaan. Wat ons daar gesien het, was iets verskrikliks. Daar was oral ontlasting en die waterbakke was groen van die alge. Twee van die windhonde het leweloos op ’n paar komberse gelê. Ek het gedink hulle was dood.”

Volgens Matthee was die windhonde beide yskoud, nat en baie siek. Hulle het ook twee babahondjies in die man se badkamer gevind.

Die twee siek honde is gekonfiskeer.

Die saak word tans verder ondersoek en die DBV gaan ’n saak van dieremishandeling teen die teler maak.