Pofadder by huis verwyder

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Inwoners van Kimberley is Woensdagaand met ’n onwelkome besoek van ’n 1.1 m pofadder verras.

Ryno Griesel, een van die manne by Kimberley Snake Rescue, gesels met ons oor die geval en hoe jy moet maak, sou jy jouself in so ‘n penarie bevind.

Volgens Griesel was die pofadder op die stoep van een van die huise in die nuwe uitbreiding langs die Ultra City-motorhawe raakgesien. Die pofadder was volgens Griesel baie aggressief, maar hulle het hom verwyder en op ‘n veilige plek vrygelaat.

Foto: Ryno Griesel met die 1.1 m pofadder.

Griesel en sy span het in die afgelope week vier bruin huisslange by verskillende huise in Kimberley gaan verwyder.
Griesel sê die rede vir die slange wat nou hul verskyning maak, is die reën.

Volgens Griesel is slange redelik hardnekkig en gaan dinge soos diesel, paraffien of knoffelplante hulle nie weghou by jou huis nie. Skoon erwe kan egter die kanse verminder vir ’n slang om jou huis te kom besoek. Raak dus ontslae van dinge soos bourommel wat om jou huis lê.
Kimberley Snake Rescue is opgeleide slangvangers en werk saam met natuurbewaring. Hulle het ’n permit om die slange wat hulle by inwoners se huise vang te hanteer en te vervoer. Hulle het ook die spesiale toerusting wat spesiaal ontwerp is om te voorkom dat die slange nie gedurende die vangery seerkry nie.

Griesel verseker ons dat die slange op ’n veilige plek 20 km weg van enige residensiële area of dorp vrygelaat word. Die koördinate van die slang se vrylating word ook vir Natuurbewaring gestuur om so tred te hou met waar die slange is.

Wat jy moet doen wanneer jy vir die slangvangers wag

Moet nooit jou oog van die slang afhaal nie. As jy nie ’n selfoon by jou het nie vra iemand anders om die oproep te maak. As jy die slang uit die oog verloor, bemoeilik dit die taak van die slangvangers om die slang te vind wanneer hulle by jou huis opdaag.

Moet ook nooit probeer om die slang self te vang of dood te maak nie. Meer as 80% van slangbyte kom voor juis wanneer oningeligte mense probeer om die situasie op hul eie te hanteer.

Kimberley Snake Rescue is enige tyd beskikbaar om slange by jou huis te kom verwyder. Skakel vir Ryno Griesel by 083 444 8003, Dawie Griesel by 084 240 6353 of Gawie de Witt by 082 347 6586.