Southridge inbreker op heterdaad betrap… met ‘n besem?

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Daar was vanoggend ongeveer 03:00 ’n inbraak by ’n woonstel in Attwoodsingel, Southridge.

Christene McArthur (39) en haar man, Hector McArthur (42) het ’n inbreker op heterdaad betrap toe hy by hulle woonstel probeer inbreek het. Mev. McArthur vertel hoe sy om 01:55 ’n tik-geluid buite hul woonstel gehoor het.

“Ek het net gister nog vir my man vertel hoe veilig dit hier in Southridge is. Toe ek die geluid hoor, het ek gedink dit is die waterverkoeler en dit geïgnoreer. Ek het weer gaan slaap.”

Mev. McArthur sê dieselfde tik-geluid het haar ongeveer 03:00 weer wakker gemaak en toe sy haar oë oopmaak, het sy eers net ’n besem gesien. Volgens Mev. McArthur was dit toe die wind die gordyne voor die skuifdeur wegwaai, wat sy die inbreker in die deur gesien staan het.

“Ek het dadelik geskree en tot my verbasing het die inbreker nie weggehardloop nie. Ons het met die besem tussen ons gestoei vir ’n paar oomblikke, toe word my man wakker. Ek het gelukkig net my hand seergemaak.”

Mev. McArthur vertel haar man het vir die inbreker gesê hy beter hardloop en eers toe het die inbreker laat spat.

“Ek kan nie glo iemand het die vermetelheid om in my erf en in my huis in te kom nie. Ons is so moeg vir die misdaad. Nie net in die dorp nie, maar in die hele Suid-Afrika. Daai mannetjie beter wegbly hier!”

Mev. McArthur sê die inbreker het nie ’n kans gehad om iets te steel nie en daarom gaan hulle nie ’n saak by die polisie maak nie.