Daar was vandag tussen 12:00 en 12:45 ’n inbraak by een van die huise in Chamierstraat, Monumenthoogte.
Danyell Viljoen (24) vertel hoe haar ma se African Grey-papegaai glo die inbreker(s) net betyds weggejaag het. Viljoen se ma (48) het 12:00 gery om gou inkopies te gaan doen en toe sy ongeveer 12:45 na haar huis terugkeer, was een van die kamers in haar huis se vensters gebreek en die laaie omgekeer. Volgens Viljoen se ma is daar niks gesteel nie.

Die African Grey is al vir drie jaar deel van die Viljoen-gesin en volgens Viljoen maak hierdie papegaai haar ma se stem perfek na.
“Al wat ons kan dink, is dat die inbreker nog besig was om te soek na iets waardevols, ’n stem gehoor en toe gevlug het! Dit kon net Charlie, die papegaai, wees.”
Viljoen en haar ma het dadelik die polisie ontbied en sê hulle gaan beslis ’n saak open.



