Victor Louw (38), eienaar van Video Fun and Games in Kimberley, gesels ’n bietjie met FiND iT oor sy passie vir videospeletjies.
Video Fun and Games is geleë op die hoek van Newton- en Kaapstadstraat in Beaconsfield. Louw vertel hoe hy en sy pa meer as 11 jaar gelede die speletjie-arkade oopgemaak het.
“My pa het in die 1970’s van hierdie swart-en-wit videospeletjie-masjiene gekoop. Hy het so twee of drie van hierdie masjiene by die kafees in Durban gehad. Met tyd het ons maar van hierdie nuwer masjiene aangekoop.”
Louw het die besigheid by sy pa oorgeneem, maar sê sy pa help hom elke nou en dan as ’n masjien breek en reggemaak moet word. Louw sê dis maar moeilik om al hierdie speletjies in stand te hou, aangesien baie van die speletjies redelik oud is. Louw se winkel het nou 50 speletjies, alles van die ouer PAC-MAN tot die nuwer Jurassic Park. Louw se gunstelingspeletjie is Time Crisis 2.
Louw wil graag die kinders wat by sy speletjiesplek kom speel, op ’n positiewe manier beïnvloed. Hy het besluit om sy winkel nie tydens skoolure oop te maak nie, omrede die kinders in sy plek kom sit eerder as om skool toe te gaan. Hy het ook ’n reël dat geen drank of sigarette in sy plek toegelaat word nie. Hy voel dat die kinders nie altyd die geleentheid het om byvoorbeeld na die speletjiesplek by die inkopiesentrum te gaan om speletjies te speel nie en daarom wil hy dit graag vir hulle spesiaal maak, in hul eie area.
“Ek leer hulle ook om asseblief en dankie te sê. Ek voel dat as hulle vir my die respek kan toon wat hulle eendag vir hulle werkgewers gaan toon, sal hulle ver kan kom in die lewe.”

Foto: Victor Louw by sy gunstelingspeletjie, Time Crisis 2.



