KIMBERLEY – ‘n Ma (40) is hier vir 10 jaar tronk toe gestuur nadat sy haar seun (15) probeer vermoor het.
Brig. Mohale Ramatsheba, polisiewoordvoerder, sê sy is op 29 Januarie skuldig bevind op die aanklag van poging tot moord op haar seun wat gestremd is.
Die vrou is in die Galeshewe-streekhof skuldig bevind. “Gedurende die hofverrigtinge het dit aan die lig gekom dat die vrou haar seun op 16 Desember 2018 uit sy rolstoel tot op die bed gehelp het. Sy het hom vol paraffien gegooi en hom aan die brand gesteek. Die seun se pa het ’n brandblusser gegryp en die brand geblus. Die seun se pa het sy lewe gered.”
Die seun het ernstige brandwonde opgedoen. Hy is vir vyf maande na die insident gehospitaliseer.
Tydens die uitspraak is die vrou onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Lt.-kol. Marli Strydom, die bevelvoerder van Galeshewe se gesinsgeweld en kinderbeskermingseenheid, bedank a.o. Conrad de Jongh vir ’n uitstekende ondersoek.



