Suid-Afrikaners nou in China gestrand

Deel hierdie storie / Share this story

“Meeste plekke se maskers is uitverkoop. Die supermarkte neem jou koors en jaag jou dan weg.”

Die koronavirus wat in die afgelope maand in China uitgebreek het, laat talle Suid-Afrikaners in China sonder inkomste of hulp van ons land se regering om hulle weer tuis te kry.

Die wintervakansie vir China se skole sou klaarblyklik net twee weke duur, maar die heropening van die skole word egter nou uitgestel tot 17 Februarie en dus is die Suid-Afrikaners wat as onderwysers in China werk, nou sonder ‘n werk of ‘n inkomste.

Ons gesels met Bianca Smith, een van die Suid-Afrikaners wat in Taizhou, Zhejiang, skoolgee.

“Die stres om te weet jy kan dit nie bekostig om huis toe te gaan nie, is iets verskrikliks.”

Smith was saam met vriende in ‘n ander stad toe daar vir hulle gesê is dat hulle nie meer in die strate mag wees nie en net in hulle blyplekke moet bly. Sy moes toe in die vreemde stad bly en bly nou in ‘n woonstel saam met ‘n paar vriende.

 “Ons vervoerdienste is afgesluit en die normale winkels is nog oop, maar kos is baie duur en skaars. Die banke en ander besighede maak op 9 Februarie weer oop. Meeste plekke se maskers is uitverkoop. Die supermarkte neem jou koors en jaag jou dan weg.”

Ander lande soos Japan, Australië en Amerika het met die uitbreek van die virus dadelik die nodige reëlings getref om hulle burgers wat in China is, weer terug te neem na hul tuislande.

“Dis maar ‘n ongelukkige situasie. Al opsie wat ons het, is om te wag.”