September 24, 2021

Ware verhaal van ’n vreemde verdwyning – deel 3

Het jy al gehoor van, of weet jy van iemand wat spoorloos verdwyn het? Daar is baie gevalle regoor die wêreld van mense wat net spoorloos verdwyn en nooit weer opgespoor word nie.

Die onopgeloste verdwyning van Brian Shaffer

Brian Shaffer het op 31 Maart 2006 by ’n kampuskroeg ingestap en nooit weer uitgekom nie. Shaffer was ’n tweedejaar mediese student aan die Ohio State University College of Medicine wat ’n bietjie wou ontspan ná ’n stresvolle week van eksamen. Hy het die aand saam met sy vriend, William, by die Ugly Tuna Saloona, begin en het die aand daar beëindig nadat hulle ’n rygeleentheid saam met een van William se vriende gekry het.

Terwyl hulle ’n laaste rondte om die aand af te sluit, geniet het, het Shaffer op een of ander manier uit sy vriende geraak. Toe die kroeg om 02:00 sluit, het Shaffer se twee vriende vir hom buite gewag, maar hy het nooit opgedaag nie. Hulle het aangeneem hy is huis toe sonder om vir hulle te sê. Die volgende Maandagoggend het hy nie vir ’n vlug wat hy en sy vriendin na Miami sou neem, opgedaag nie. Brian Shaffer is eers toe as vermis verklaar is.

Verwarrende raaisel

Die polisie het hulle soektog begin by die laaste plek waar Brian Shaffer  gesien is. Wat hulle daar gevind het, was die begin van ’n verwarrende raaisel. Die kroeg was toegerus met ’n aantal sekuriteitskameras. Op die beeldmateriaal is Shaffer gesien waar hy die kroeg binnegaan.  Kort voor 02:00 het hy buite die kroeg gestaan terwyl hy met twee vroue gesels. Die kamera wys waar hy weer die kroeg binnegaan. Hy is sedertdien nog nooit weer gesien nie.


Die kroeg het geen ander openbare in- of uitgang gehad nie. Die polisie het beeldmateriaal van verskeie ander inrigtings in die omgewing deurgesoek om te probeer vasstel of en hoe Shaffer die kroeg verlaat het, maar kon geen teken van hom sien nie. Die polisie het ver en wyd ondersoek ingestel, selfs onder meer in die stad se rioolstelsel. Nie eens die polisie se honde-eenheid kon ’n spoor van Shaffer vind nie.

Die twee vroue met wie Shaffer laas gesien is, is deur die polisie geïdentifiseer, maar geen gemene spel word vermoed nie.

Brian Shaffer is tot vandag toe nog vermis en sy liggaam is nooit opgespoor nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *