KIMBERLEY – Sekere woonbuurte in Kimberley word geteiken. Huiseienaars gaan slaap met geslote hekke en motorhuisdeure, net om dit die volgende oggend wawyd oop te kry.
Die slagoffers is deur Wickus Coetzee van Scorp Security aangeraai om hul hekke en motorhuisdeure se afstandbeheerders te verander.
Daar is verskeie veiligheidsmaatreëls wat ’n mens kan toepas. Dit sluit in om te verseker dat jou hekmotor nie van die spoor opgelig kan word nie. Die hekmotor moet ook diefstalbestand wees.
Die kontrolekaart van die hekmotor moet skoongemaak word en moet geherprogrammeer word. Dit voorkom dat daar ’n onbekende afstandbeheerder op dieselfde frekwensie ingestel kan word.
Warrick van Schalkwyk sê: “Sodra ’n dief sien hy kan maklik toegang tot jou woning kry, sal hy probeer inbreek. Dit moet moeiliker gemaak word om by die perseel in te kom deur sekuriteitmaatreëls op te skerp. Die dief sal aanbeweeg na ’n makliker teiken as hy sien dat hy gaan sukkel.”
’n Motorhuisdeur se kontrolekaart werk soos ’n hekmotor s’n. Dit moet ook skoongemaak word en op ’n ander frekwensie ingestel word.
Die slagoffers wat geteiken is en hul hekke en motorhuisdeure oop gekry het, het Coetzee en Van Schalkwyk se raad gevolg. Dit het die veiligheid in die buurt verbeter.
Die huiseienaars wat hul hekke en motorhuisdeure oop gevind het, kan nou rustig gaan slaap en verseker wees dat die buurtwag op hul pos is.



