Kombuiswerkers by hospitaal betoog

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Kombuispersoneel by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley het Maandagoggend teen hul werksomstandighede betoog. Die betoging het pasiënte by die hospitaal sonder ontbyt gelaat.

Die personeel is Nehawu-vakbondlede en eis dat hul deur die departement van gesondheid aangestel word.

Godfrey Davids, Newhawu se voorsitter van die Robert Mangaliso Sobukwe-tak, het gesê die vakbondlede is ontevrede omdat hulle vir privaatkontrakteurs moet werk.

Die kombuispersoneel het teruggekeer na die kombuis om vir die pasiënte kos te maak nadat daar ’n ooreenkoms met die hospitaalbestuur bereik is.

Volgens Davids word die onderhandelinge Dinsdag voortgesit.