Dief op heterdaad betrap

Deel hierdie storie / Share this story

RITCHIE – Maandag omstreeks 23:00 is ’n dief in ’n huis op Ritchie betrap toe hy deur die venster en diefwering geklim het.

Wynand Enslin (38), die eienaar van die buurtwag op Ritchie, het met FiND iT gesels.

Enslin vertel: “Ek het die huis vir my vriende wat daarin belangstel om dit te koop gaan wys. Ons het die man betrap waar hy besig was om die huis van binne af stuk-stuk weg te dra.”

Volgens Enslin het die man, Neville (26), ’n lugverkoeler uit die huis gesteel.

Daar is ’n saak van diefstal teen Neville oopgemaak. Hy is ook in hegtenis geneem. Die vermeende dief sal in hegtenis bly.

Enslin sê: “Hy het die diefwering afgebreek en deur die venster geklim. Dit is ook hoe die buurtwag hom betrap het. Die manne van die buurtwag het vinnig opgetree om die dief vas te trek.” Volgens Enslin het die dief slim te werk gegaan om net ’n klein bietjie op ’n slag te steel. Hy het sy hand oorskry toe Enslin en die buurtwag by die huis instap op die oomblik toe hy deur die venster klim.