4480 antiretrovirale pille by verdagtes gevind

Deel hierdie storie / Share this story

WELKOM – Drie mans en ’n vrou, wat met bokse antiretrovirale medisyne vanaf Kroonstad tot Welkom se reis is kortgeknip nadat die polisie inligting van die misdaadintelligensie-afdeling opgevolg het.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê beamptes het die wit Toyota RunX waarmee die verdagtes gery het, in Dr. Timothy Ndaki-laan in Thabong voorgekeer.

Volgens die beamptes het ’n vrou die voertuig bestuur. Twee bokse met 160 bottels antiretrovirale medisyne (ARVs) is gevind. Beslag is ook op die voertuig gelê.

Die drie mans tussen die ouderdomme van 31 en 43, sowel as die vrou (34) is in hegtenis geneem en in die selle by die Welkom-polisiekantoor in aanhouding.

Makhele sê al vier beskuldigdes is vir die oortreding van die Wet op Medisyne en Verwante Middels aangekla en gaan binnekort in die hof verskyn.

Lt.-brig. Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris van die Vrystaat, sê: “Dit is die derde arrestasie in ’n kort tyd waar mense met groot hoeveelhede ARVs gevang is. Ons waardeer die hulp van die gemeenskap om hierdie selfsugtige mense te vang wat die regering se inisiatiewe vir gemeenskapsgesondheid vir eie gewin misbruik.”