KIMBERLEY – Met die baie reën wat die afgelope tyd geval het, is daar baie waarskuwings uitgereik aan boere om hul vee te laat inent teen hierdie virus. Slenkdalkoors is nie nuwe nuus nie en meeste boere is bekend daarmee. Die siekte word veroorsaak deur ’n virus wat versprei word deur insekte, hoofsaaklik muskiete. Dit tas hoefdiere, meestal skape, aan.
Meer reën, meer muskiete
Volgens dr. Donovan Smith, ’n plaaslike veearts, was daar nog geen voorvalle van Slenkdalkoors hierdie jaar nie. “Omdat dit so baie die afgelope tyd gereën het, sal daar baie muskiete voorkom,” sê dr. Smith. Hierdie is bloot ’n voorkomingsmaatreël wat uitgereik is aan boere.
Inenting van diere
“Daar is verskeie middels waarmee daar ingeënt word, afhangende van die ouderdom van die dier en of hy dragtig is of nie.” Dr. Smith voeg by dat die inentingsmiddel gemaak word by Onderstepoort in Gauteng.
Simptome
Die virus het baie newe effekte en dit is maklik om vas te stel of ’n dier hierdie virus het. Dr. Smith noem aan FiND iT dat die virus aborsies en ook sterftes by jonger diere veroorsaak. Slenkdalkoors is baie aggressief en veroorsaak daarom massavrektes. Hy raai aan dat boere en werkers versigtig moet wees as hulle aanraking te kom met dooie diere, omdat die siekte oordraagbaar is. “Bel vir jou eie veiligheid eerder ’n veearts om ondersoek in te stel.”



