Slaggat se gat!

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Die meeste voertuigeienaars sou seker aan ’n meer elegante  slagspreuk kon dink, maar  in ’n dorp waar die paaie letterlik uitmekaar val en waar elke ouer noukeurig oor sy woordkeuse moet nadink wanneer sy kar kliphard die slaggat stamp, glo ons die slagspreuk praat met almal.

Verby is die dae van slaggate wat jou dag ontsuur, jou bande opfoeter en ongelukke veroorsaak.

Slaggate se dae is verby

FiND iT, die grootste aanlyn mediagroep in die sentrale streek, het die inisiatief begin deur slaggate ’n laaste opstopper te gee. Ma’ letterlik!

Rudi Ferreira, FiND iT se bedryfshoof wat aan die stuur van die projek is, sê  die terugvoer wat hy binne minute van invloedryke sakemanne in die stad ontvang het, was oorweldigend. “FiND iT se padwerkspan kan reeds so vroeg as Woensdag aan die werk begin spring.  Meer as 200 vierkante meter is klaar bestel.”

Elkeen maak ‘n bydrae

Ferreira sê hy weet watter uitdagings infrastruktuur van ‘n stad soos Kimberley bied en hoe moeilik dit is om dit in stand te hou. “Elkeen van ons het wel ’n verantwoordelikheid om ’n positiewe bydrae te maak en ons vat vandag hande met die res van die gemeenskap.”

Die wonderlike ding van die projek is dat wanneer jy as individu of instansie ’n skenking maak, mag jy besluit waar die pad herstel moet word.

Elke sent aangewend vir paaie

FiND iT gee vir jou onderneming blootstelling op sy platform wat reeds meer as 500 000 aanlyn verbruikers het en  nie een persoon moet sy bydrae as gering skat nie.  “Elke sent sal aangewend word om ons paaie te herstel.    Ons oogpunt is om voor 1 Julie 2020,  3000 slaggate toe te stop.”

So wanneer jy die FiND iT-span in die hitte van die dag sien werk aan ons paaie, bring vir hulle ’n koeldrankie, bedank hulle of waai net vriendelik.

Saam is ons sterker.

Vir enige navrae skakel: Rudi Ferreira   071 686 7200