NOORD-KAAP – ’n Indringer spesie vrugtevlieg wat boere tussen Douglas en Prieska asook Groblershoop, Karos, Upington, Kakamas en Augrabies is bedreig het, is suksesvol in die provinsie uitgewis, sê die landboudepartement.
Reggie Ngcobo, woordvoerder van dié departement, sê monsters van die vrugtevlieg (Bactrocera dorsalis) is gedurende 7 Februarie en 29 Mei 2019 tussen Douglas en Prieska in die Pixley ka Seme-distriksmunisipaliteit gevind. Dit was ook in Groblershoop, Karos, Upington, Kakamas en Augrabies, insluitend gebiede langs of naby die Oranjerivier in die ZF Mgcawu-distriksmunisipaliteit gesien.
Plan suksesvol geïmplimenteer
’n Plan is suksesvol uitgevoer om die beweging van vrugte uit die kwarantyngebiede te beheer. Ngcobo sê die gebiede tussen Douglas en Prieska sowel as tussen Groblershoop en Augrabies is vry van die teenwoordigheid van Bactrocera dorsalis verklaar.
Die plaag het Suid-Afrika in 2010 ingedring en dit was in die noorde en oostelike dele van die land gevestig.
Die departement het sedertdien ‘n eksotiesevrugtevlieg-bewakingsprogram op die been gebring. Ngcobo sê alhoewel die westelike en suidlike gebiede steeds vry is van die plaag, is dit uiters noodsaaklik om te verseker dit word gehandhaaf.
Die plaag affekteer varsprodukte, wat sitrus, tafeldruiwe en granate insluit, wat in die betrokke gebiede verbou word. Dit kan egter bessies, tamaties, komkommers sowel as verwerkte produkte soos druiwe vir rosyne en wyn affekteer.
Hierdie plaag kan tot gevolg hê voedelonsekerheid, vermindering van opbrengste, asook werkverliese, markbeperkings en hoë produksie- en na-oes-koste tot gevolg hê, indien dit nie doeltreffend beheer word nie, verduidelik Ngcobo.



