Vandag die 21ste Januarie vier ons internasionale sweetpakbroekdag. Ons almal het al van daardie dae gehad waar jy nie netjies vir werk of vir die dag wil aantrek nie. Vandag is die dag om jou sweetpakbroek met trots te dra en dit moet gevier word.
Die geskiedenis van hierdie dag
Die eerste sweetpakbroek is in die 1920’s bekendgestel deur Émile Camuset, die stigter van Le Coq Sportif. Dit was ’n eenvoudige, gebreide grys broek waarmee atlete gemaklik kon strek en hardloop. Grys was die algemene kleur waarin hierdie broeke voorgekom het, maar soos die tyd aanstap het, het daar nuwe kleure en style hul verskyning gemaak. Maatskappye soos Nike het pogings aangewend om hulle meer stylvol en terselfdertyd net so gemaklik as die oorspronklike te maak.
Doel van hierdie dag
Die internasionale sweetpakbroekdag is geskep om mense te wys dat dit nie ’n verleentheid is om ’n sweetpakbroek te dra nie. Die lewe is te kort om heeltyd stywe klere aan te trek.
Hoe om hierdie dag te vier
Die dag word nie net gevier deur ’n gemaklike sweetpakbroek te dra nie, maar ook deur jou stresvolle en gejaagde lewe opsy te skuif en ’n breuk te vat. Deur ’n sweetpakbroek te dra, wys dat jy iets goeds wil doen vir jouself en nie omgee oor wat ander van jou dink of sê nie.



