Twee met mes aangeval

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Pravesh Maharaj (52) en sy vrou (48), inwoners van Kimberley, is vanoggend op die hoek van Lodge- en Rendleshamstraat in Belgravia aangeval.

Voorval tydens stap

Maharaj en sy vrou was besig om vir ’n 5km staptog voor te berei. Hulle het vir die afgelope twee weke elke oggend om 04:30 gaan stap. Vanmôre het hulle egter by die stop in Lodgestraat aangekom toe drie mans hulle voorgekeer het.

Slagoffer bied selfs sy skoene aan

 “Toe ons sê ons het niks nie en verder probeer loop, het een van die mans ’n mes uitgeruk. Ek het hom selfs my skoene aangebied,” verduidelik Maharaj. Volgens Maharaj is hy en sy vrou deursoek terwyl hy aan die verdagtes probeer verduidelik het dat hy niks het om vir hulle te gee nie. Hy sê: “Hulle het volgehou dat hulle ons selfone en geld soek.” Die verdagtes het weggehardloop toe hulle niks by Maharaj en sy vrou kon vat nie. Maharaj sê sy vrou is nog baie ontsteld, maar gelukkig het hulle nie seergekry nie.  

Wickus Coetzee, van Scorp Security, sê lede van die Scorp Security-buurtwag moet die sekuriteitsbeampte aan diens laat weet as hulle so vroeg gaan stap. Coetzee sê ook dat mense eerder nie met oorfone in moet draf of stap nie. Om in groepe van 3 of vier te stap, of jou hond saam te neem, is ook altyd beter.