KURUMAN – ’n Man in sy laat twintigs wat daarvan verdink word dat hy vroue in die Kuruman-middestad beroof het, is in hegtenis geneem.
Lt.-kol. Dimakatso Mooi, polisiewoordvoerder, sê verskeie sake van diefstal is geopen nadat mans meer as drie vrouens in die middestad van hulle besittings beroof het.
Die modus operandi van die verdagtes is om geld op die grond te gooi. Die niksvermoedende slagoffer wat dit optel, word dan na ’n verlate gebied geneem waar hulle beroof word. Mooi sê hulle gee voor hulle is die polisie en sê hulle ondersoek ’n saak waar ’n persoon van hulle geld beroof is.
Die slagoffer het berig dat sy in die plaaslike winkel was toe sy die geld op die grond in die winkel sien lê. Sy het die geld opgetel en is onmiddellik deur die verdagte en sy medepligtige genader wat haar buite die winkel geneem het. Hulle het haar van haar handsak, selfoon, bankkaart en kontant beroof, verduidelik Mooi.
Die verdagtes het gevlug en een is op Vryburg met behulp van die Vryburg-polisie opgespoor. Die ander verdagtes is nog opsoek, maar arrestasies volg binnekort, sê Mooi.
Die polisie doen ’n beroep op slagoffers van die sindikaat om die Kuruman-polisiekantoor te kontak.
Die verdagte gaan binnekort in die Kuruman-landdroshof verskyn, sluit Mooi af.



