ANC koek toe nié R127 000 gekos nie

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Daar was gerugte dat die koek wat vir die ANC se 108ste verjaardagvieringe gebak is, R127 000 gekos het. Ons gesels met Annette Roux Wall, eienaar van Designer Cakes & Baking Creations, en sy vertel die storie agter die storie.

“Die ANC Kimberley kantoor het my twee dae na Kersfees gebel en gevra of ek die koek vir hulle sal bak. Hulle was baie spesifiek oor wat hulle wou hê. Ek het ander opsies voorgestel, maar hulle was oortuig van wat hulle wou hê. ‘n Koek van 3m by 1.5m.”

Wall sê sy moes haar vakansie kortknip om betyds in Kimberley te wees om die reëlings te begin tref vir die bak van hierdie massiewe koek. Volgens Wall het sy en haar werkers vir twee dae aan die koek gebak en vir nog ’n dag aan hom versier. Sy vertel sy moes verlede Saterdagoggend haar winkel se venster laat uithaal sodat sy die koek daardeur kon neem. Die koek, wat uit 47 kleiner koeke bestaan het, het 320kg geweeg, en Wall verseker ons dat die koek beslis nie R127 000 gekos het nie.

Die president se  gesondheidspan het klaarblyklik haar drumpel deurgetrap in die drie dae voordat hulle die koek kom haal het.

“Baie, baie dankie, julle. Dit was ‘n groot uitdaging en ‘n groot eer, want vir die afgelope week praat die hele Suid-Afrika oor my koek!”