BLOEMFONTEIN – ’n Vrou (34) is glo hier onder valse voorwendsels na ’n woonstel gelok, met dwelms ingespuit, geïntimideer en tot prostitusie gedwing.
A.o. Lynda Steyn, polisie woordvoerder, sê: “Op Woensdag 8 Januarie 2020 om 20:40 was die dame op pad vanaf Botshabelo na Johannesburg. Terwyl sy vir ’n trein in Bloemfontein gewag het, het ’n vrou en haar Nigeriese man die slagoffer genader. Hulle het haar gevra om hulle na hul woonstel te vergesel omdat hulle jeans verkoop.”
Ingespuit en prostitusie
“Met haar aankoms by die woonstel in Zastronstraat is met sy met dwelms ingespuit en geïntimideer. Sy is dieselfde aand tot prostitusie gedwing waardeur haar handelaars geld ontvang het van twee kliënte wat sy gediens het. Die derde kliënt het besef sy huil en het haar na die Parkweg-polisiestasie geneem. Sy is in die hospitaal opgeneem en die volgende dag ontslaan.”
Verdagtes nie in hegtenis geneem nie
Die polisie het haar na die misdaadtoneel vergesel om haar besittings te gaan haal. Die verdagtes was teenwoordig, maar is nie in hegtenis geneem nie. ’n Saak van gewone aanranding (met ’n naald ingespuit) is geregistreer.
Saak oorgegee aan Valke
Die saak is aan die Valke vir ondersoek oorhandig. ’n Operasie is op 17 Januarie uitgevoer, waartydens een verdagte deur die slagoffer uitgewys is. ’n Negentienjarige verdagte is in hegtenis geneem. Twee verdagtes is nog soek.
Die verdagte sal Maandag 20 Januarie 2020 in die landdroshof verskyn.



