Nog ’n dwelmhuis in stad kry knou

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Meer as R10 miljoen se dwelms en gereedskap om dwelms te vervaardig, is die naweek hier by ’n huis in Andersonstraat gekry.

Waarde R10 miljoen

Lt. Kol. Dikamatso Mooi, polisiewoordvoerder, sê die polisie het Saterdagoggend op die huis toegeslaan. “Lt. Gnrl. Doggie Magugu het ingligting opgevolg oor dié huis wat as dwelmlaboratorium gebruik word. Gedurende die ondersoek is verskeie dwelms, chemikalieë, gewigskale, verpakkingsmateriaal, asook leë chemikaliese houers, gevind. Die totale waarde is meer as R10 miljoen.”

Man wat verbyloop in hegtenis

’n Man (33), wat tydens die ondersoek by die perseel verbygeloop het, is in hegtenis geneem nadat dwelms op hom gevind is. Hy sal in die hof verskyn op aanklag van besit van dwelms.

Omstanders niks vermoed

FiND iT was op die toneel. Omstanders was verbaas oor al die polisie-voertuie en het niks vermoed nie.

Lt. Gnrl. Risimati Shivuri, provinsiale kommissaris, het die polisie vir hulle goeie werk en waaksaamheid bedank.

Vorige deurbraak die jaar

Dit is die tweede groot dwelmhandel-deurbraak in Kimberley. Meer as R1.5 miljoen se dwelms is oor die feestyd in Kimberley deur die polisie gekry. Die polisie het op 7 Januarie ’n groot deurbraak gemaak toe die Frances Baard reaksie-eenheid op ’n huis in Herlear toegeslaan het. ’n Man (30) is in hegtenis geneem vir die besit van dwelms.

Die polisie het 2.4 kg Khat en 500g Tik by dié huis gekry. Die waarde van dié dwelms is ongeveer R1.7 miljoen. ’n Voertuig, wat na bewering gebruik is om die dwelms te versprei, is ook gekonfiskeer.

Verskeie voertuie het gisteroggend voor die huis in Andersonstraat gestaan.
Die gereedskap is op die toneel gevind.
Dié goedere is ook op die toneel gevind.