KIMBERLEY- Heila van Zyl (20) was in 2018 ’n matrikulant wat in haar matriekjaar uitgevind het sy verwag. Sy vertel aan FiND iT hoe die nuus haar onkant gevang het .
Bang en onseker
Sy was bang en onseker hoe om haar ouers die nuus te vertel. “My ouers was teleurgesteld, maar het met tyd die nuus aanvaar en my ten volle ondersteun,” vertel Heila aan FiND iT.
Pa wou nie deel wees
“Ek het die biologiese pa vertel, maar hy wou nie deel wees van die baba se lewe nie. My familie en my vriende het my ondersteun.”
Drome net uitgestel
Heila het, soos enige matrikulant, drome gehad vir haar lewe. Sy wou graag haar matriekjaar klaarmaak en gaan werk. “Ek wou ook wel die beste ma vir my baba wees. Ek sien nie die swangerskap as die doodloop van my drome nie. Dalk net ’n verlengingsproses.”
Voltooi matriek
Na die geboorte het sy haar matriekjaar voltooi en in 2019 gematrikuleer. “My seuntjie is my beste geskenk. Ek het hom onvoorwaardelik lief. As so iets met jou gebeur, moenie bang wees nie. Vertel jou familie, want deur sulke tye is hulle jou beste ondersteuners.”
Hierdie jaar wil sy aan haar drome begin werk. Sy wil graag by die polisie gaan werk en het juis matriek nodig gehad om dit te kan doen. “Ek het weer ’n liefde in my lewe en my een-jarige bondeltjie liefde.”



