Daar word môre-oggend ’n skoonmaakveldtog op Ritchie geloods. Hierdie projek is geïnisieer deur Elize Niemann, ‘n raadslid van Sol-Plaatje munisipaliteit en die hele gemeenskap gaan môre hande vat en die dorp skoonmaak. “Mens moet eienaarskap neem oor jou eie omgewing en sorg dat dit skoon is,” sê Niemann.
Laat die skoonmaak begin
Die gemeenskap en almal wat gaan help, insluitend die boere en hul werknemers, kom môre-oggend om 08:00 by die Pad-kafee op Ritchie bymekaar. Hulle gaan begin deur die ingang van die dorp en die vier lane skoon te maak en rommel op te tel.
Indringer bome
’n Groot deel van hulle projek is om die indringerplante, Prosopis, wat op sypaatjies groei, te verwyder. Die departement van omgewingsake het hierdie bome geïdentifiseer as nasionale indringerplante. “Dit is besig om die paaie te versper en dit neem al die ondergrondse water op,” noem Niemann aan FiND iT. Die verwydering van hierdie bome gaan op ‘n baie eko-vriendelike manier plaasvind. Die afgesaagde bome sal na die tyd opgeruim word en gebruik word vir hout vir die plaaslike gemeenskap.
Skenkings
Hierdie projek het baie skenkings van die gemeenskap ontvang. Water en swartsakke is onder andere deel van hierdie skenkings. Daar is ook gif geskenk om sypaadjies skoon te hou van onkruid en ongewenste grasse.



