Nadia Steyn is op 6-jarige ouderdom met tipe 1-diabetes gediagnoseer. Haar mamma, Ansie Steyn, gesels met FiND iT oor hoe braaf en sterk Nadia deur die hele proses is.
Nadia word siek
Ansie vertel Nadia was vir ’n tydperk voordat sy gediagnoseer is, nie lekker nie. “Sy was baie naar en het baie gesweet. Sy het ook baie water gedrink, maar ek was nie bekommerd nie, net bly sy drink baie water, want op daardie stadium was dit baie warm.”
Nadia het egter ses kilogram verloor en het geen energie gehad nie. Haar ouers het haar ’n paar keer by ’n dokter gehad en dit is elke keer aan lugweginfeksie toegeskryf.
Groot skok
Begin Maart 2019 kon Ansie nie vir Nadia uit die bed uit kry nie. “Dit was asof sy geen energie gehad het nie. Sy het net in die bed gelê.” Hulle is onmiddellik met haar ongevalle toe waar toetse gewys het sy het glukose in haar urine.
Sy is vir suiker getoets en na die intensiewesorg-eenheid gehaas. “Die dokter het haar aan monitors gekoppel met verskillende insuliendrups. Sy is elke uur getoets. Die volgende dag is die drups verwyder en sy is vir insulien ingespuit.”
“Ons as ouers het net na die dokter en Nadia gestaar toe ons die uitslag kry dat sy diabetes het. Ons was so seer binne, want hoekom ons, hoekom sy? Ons was so bekommerd, want met die lae suikers kan sy enige tyd in ’n koma ingaan. Ek onthou nog goed die volgende dag het my man gesê sy kan nie weer ’n roomys eet nie en hy was baie hartseer. Die goeie nuus is dat sy kan wel suikervrye roomys kan eet.”
Hoe hanteer hulle dit as familie?
“Nadia is die dapperste dogtertjie wat ek ken. Ek het eers met haar siekte besef hoe braaf en sterk sy is. Die hospitaal het ons alles oor diabetes geleer. Ek kan definitief sê hulle het die grondslag vir ons neergelê.”
Van dag een af het Nadia haarself getoets en ingespuit.” Sy het tot vandag toe nog nie een keer vir ’n naald of ’n drup gehuil nie,” vertel Ansie.
“Alles in die koskaste, yskaste, selfs die speseryrak het verander. Ek moes leer bak en brou, want die winkels het beperkte produkte met goeie koolhidrate beskikbaar. Nadia moes haar koolhidrate leer beheer sodat sy onafhanklik kan funksioneer, want ’n diabeet kan net 15 g goeie gesonde koolhidrate per maaltyd geniet. Gelukkig het ons ’n ouma Anna wat na skool na haar omsien en ouma sorg dat sy al die regte kosse kry.”
Groot aanpassing
Ansie sê met Nadia se suiker wat hoog was, was sy baie buierig. As haar suiker weer te laag was, het sy dadelik lam en bewerig gevoel. “Met tyd het sy self agtergekom wanneer haar lyfie vir haar sê sy moet toets om te kyk wat die suikertelling is.”
“Toe sy na ’n week terug skool toe is, was sy baie onseker oor alles. Wat gaan haar maats sê? Wat moet sy doen as sy nie lekker voel nie? Ons het dadelik met juffou Carla gaan gesels en planne gemaak om vir haar dinge beter te maak. Nadia was sommer dadelik in ’n roetine. Ja, daar is nou nog emosies as iemand ietsie lekker eet wat sy nie mag eet nie, maar sy bly sterk, want eet sy verkeerd, weet sy haar suiker gaan hoog wees en sy sal haarself in gevaar stel.”
“Dit is al 10 maande later en dit gaan so ongelooflik goed met ons diabeet.”
Boodskap aan ander
“As ouers wil ons vir ander ouers sê: Lees op oor diabetes. Dalk is dit môre jou kind wat daardeur gaan, of is daar ’n maatjie wat diabetes het wat oor jou kind se pad kom. Diabetes is ’n lewensgevaarlike siekte – as dit nie reg behandel word, of selfs 100% toewyding van jou af het nie, gaan daar moeilikheid wees. As jy ongemaklik voel met sekere simptome, laat doen die vingerpriktoets.”



