Homevale Hoërskool toegemaak vandag

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Die departement van onderwys hier dreig om die Homevale Hoërskool se beheerliggaam te ontbind, omdat dié beheerliggaam “selfsugtig” is en nie in die belang van leerlinge optree nie.

Die Homevale Hoërskool het nie vandag soos ander skole in die stad oopgemaak nie. Die beheerliggaam van dié skool het glo die leerlinge huis toe gestuur, omdat dié skool glo nie ‘n administrateur wil hê nie.

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder vir die departement van onderwys, sê ‘n administrateur is vir die skool aangestel, omdat die skool glo onder-presteer. Die skool se beheerliggaam het die administrateur van die hand gewys. “Op hierdie stadium is dit onduidelik waarom die beheerliggaam so ‘n standpunt oor die saak sou inneem en die administrateur die geleentheid sou ontneem om homself te bewys en die leerlinge die reg tot onderwys te ontneem.”

Van der Merwe sê die beheerliggaam van ’n skool moet na die belange van die skool én die leerlinge omsien. “Ons is ingelig die voorsitter van die beheerliggaam het die skool toegemaak en die leerlinge huis toe gestuur. Ons het ons distrikskantoor gevra om ondersoek in te stel.”

Van der Merwe sê leerling-vervoer bly steeds ’n uitdaging by sommige skole en daar is ’n tekort aan mobiele klaskamers by Laerskool Anderson in Griekwastad.

Hy het gesê behalwe vir die uitdagings het die eerste skooldag vlot verloop. “Die departement sal die uitdagings aanspreek en ingryp om die situasie op die beste manier aan te pak om die skool te normaliseer.”