Velsorg mites

Deel hierdie storie / Share this story

Mense is geneig om hulle eie afleidings te maak oor velsorg. Hier is ‘n paar mites oor velsorg wat definitief niè waar is nie.

  1. Sonskerm is nie nodig as die son nie skyn nie

Hierdie stelling is so onwaar as kan kom. Dit is baie belangrik om sonskerm deel te maak van jou daaglikse roetine, al is die lug grys. Om die buitelug te betree sonder sonskerm kan in die toekoms baie nadelig wees vir jou vel. Die son veroorsaak plooie, donker pigmentasie en sigbare tekens van veroudering met tyd.

2.  Om ’n vuurwarm stort of bad te neem is goed vir jou vel

’n Lekker warm bad mag dalk baie ontspannend wees, maar kan baie sleg wees vir jou vel. Warm water kan jou vel se essensiële olies verwyder, wat jou vel kan uitdroog. Probeer volgende keer om eerder die water se temperatuur matig te hou.

3. Die regte roompie kan jou laat jonger lyk

Hoeveel gesigrome word beskryf as “anti-aging” en hoeveel daarvan werk regtig? Jenny Kim, assistent-professor in geneeskunde en dermatologie, raai aan die beste behandeling vir plooie en die produk wat die beste resultate toon is retinoësuur (Retin-A) of Tretinoin . “Die heel beste manier om plooie te voorkom, is om sonskerm aan te wend en nie te rook nie.”

4. Velsorg is net vir jou gesig

Dit is waar dat jou gesig ‘n ordentlike velsorgroetine nodig het, maar die res van jou liggaam het ook liefde en aandag nodig. Sonskerm, bevogtiger en reinigers – hierdie is alles nodig om na jou hele lyf om te sien. Sien veral om na jou hande, voete, elmboë en knieë omdat hierdie dele geneig is om vinniger uit te droog.

5. Dis nie nodig vir ’n bevogtiger as jy ‘n olierige vel het nie

Baie mense met olierige velle glo dat jou vel uitgedroog moet word deur nie ‘n bevogtiger te gebruik nie. Kleimaskers en al wat ’n ding is word gebruik om hulle vel uit te droog. Hierdie mite is baie ver van die waarheid af. Eksterne faktore soos die wind en son kan die vogversperring van die olierige vel beskadig, wat die vogverlies en die olieproduksie verhoog. Indien jy nie van ’n bevogtiger gebruik maak nie, is die kans groot dat jou vel nog meer gaan blink.