Gesprekke om erfenis te bewaar met Cyril Ramaphosa

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – President Cyril Ramaphosa is vanaand in Kimberley om idees oor die nalatenskap van Charlotte Mannya-Maxeke en Solomon Tshekiso Plaatje te bespreek.

Maxeke was die eerste swart vrou in Suid-Afrika wat ‘n BA in wetenskap by die Wilberforce Universiteit in Ohio behaal het. Sy was ook die enigste vrou wat by was toe die ANC in 1912 gestig is.

Plaatje was ‘n Suid-Afrikaanse joernalis, taalkenner, politikus, vertaler en skrywer. Hy was die stigterslid en eerste sekretaris-generaal van die ANC.

Die dialoog vind by die Sol Plaatje-universiteit plaas en word deur die Charlotte Mannya-Maxeke Instituut, tesame met die kantoor van die premier en die Nasionale Erfenisraad, aangebied.

Bronwyn Thomas-Abrahams, woordvoerder van die premier se kantoor, sê die dialoog sal die aanwins wat die twee individue vir die erfenis van Suid-Afrika was, bespreek. “Die gesprek sal deur dr. Thozama April, van die Universiteit van die Wes-Kaap, gelei word. Prof. Mcebisi Ndletyana, professor by die UJ Pan African Instituut, sal ook aan die gesprek deelneem.”

Dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, en adv. Sonwabile Mancotywa, voorsitter van die Nasionale Erfenisraad, sal ook deelneem aan gesprekke oor langtermyn-doelwitte om die erfenis van Suid-Afrika te bewaar.