‘n Inwoner van Impalahof, die ABC woonstelle in Beaconsfield, het aansoek gedoen om ‘n interdik teen sy buurman te kry nadat hy na bewering sy kinders (2 en 4) gedreig het.
Die inwoner, wie se identiteit weerhou word totdat die partye in die hof verskyn het, sê die buurman laat sy aggressiewe hond vry as sy kinders verby sy deur stap. Die hond word in die woonstel aangehou.
Kind doof
Luidens die hofdokument sê die inwoner sy vrou is gestrem. Die oudste dogtertjie (4) is doof. “Ons vrees vir ons lewens. Die man maak doodsdreigemente. Ons kinders is klein en kan hulleself nie teen die man of die hond beskerm nie. Ons wil nie meer uit ons woonstelblok uit gaan nie, omdat die man ons dreig.”
Bang kinders word verskeur
Verder sê die inwoner hulle is bang dat die man sy dreigemente sal uitvoer en dat sy kinders in stukke verskeur sal word. Die buurman het hulle ook glo al met petrolbomme gedreig. “Ons kan nie meer slaap nie. Ons beskerm ons kinders.”
Gaan al lank aan
Die aansoek om ’n interdik kom nadat die man vir die hoeveelste keer die naweek die buurman gevra het om op te hou met sy dreigemente. “Dit gaan al ’n jaar en vier maande lank aan.”
Luidens die verklaring vra die man dat sy buurman moet ophou om hom en sy gesin te dreig, nie rassistiese aanmerkings te maak nie, nie doodsdreigemente te maak nie en om nie sy deur oop te maak as hulle verbyloop en die hond opdrag te gee om vir hulle te “gaan” nie.
Die buurman moet op 20 Februarie in die hof verskyn om aan te voer hoekom ’n beskermingsbevel nie toegestaan moet word nie.



