KIMBERLEY – Ester Palesa Moshoeshoe (27) het Woensdag 18 Desember ’n kort verskyning in die landdroshof in Kimberley gemaak. Moshoeshoe het na bewering vroulike slagoffers van Barkley-Wes en Kimberley vir mensehandel en seksuele uitbuiting gebruik.
Nomthandazo Mnisi, woordvoerder van die Valke sê “Die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad en die Kimberley-polisie se waakeenheid het Maandag 16 Desember en Dinsdag 17 Desember inligting wat ontvang is oor ’n vroulike verdagte wat glo by mensehandel betrokke is op die Samaria-pad, Kimberley, opgevolg.”
Die span het vinnig gereageer en ondersoek op die Samaria-pad ingestel. Drie vroulike slagoffers tussen 17 en 22 jaar oud is gered en die verdagte is in hegtenis geneem.
Die saak is tot 24 Desember 2019 uitgestel vir formele borgtogaansoek terwyl die ondersoek voortgaan.



