KIMBERLEY – Sol Plaatje-munisipaliteit het inwoners van die stad gisteraand op hulle Facebook-bladsy gewaarsku oor ’n verneukspul wat die rondte doen.
Na bewering gaan ’n Sol Plaatje-werker, saam met ’n onbekende man, van huis tot huis en vra vir geld en Kersfees-donasies.
“Die publiek word versoek om bewus te wees van ’n werknemer en ’n onbekende medepligtige wat geld en kersskenkings vra. Die werker het ’n vals lys by hom. Geen werknemer mag geld by die publiekvra nie. Dit is ’n kriminele oortreding. ’n Tugproses word teen die werknemer begin en moontlike strafregtelike klagte van omkopery sal beslis aangemeld word. Enige persoon wat deur ’n munisipale amptenaar genader word wat geld versoek, moet die saak by die polisie aanmeld,” sê Sol Plaatje-munisipaliteit op hulle Facebook-bladsy.




