Liggaamsbouer van Bloemfontein breek hond se been

Deel hierdie storie / Share this story

BLOEMFONTEIN – ’n Liggaamsbouer (17) van Bloemfontein het na bewering sy hond se been gebreek om sy krag te toets. Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein is Sondagaand ná 23:00 na die Bayswater-omgewing ontbied deur iemand wat ’n hond hoor tjank het.

Duan Matthee, ’n inspekteur vir die DBV in Bloemfontein, het op die oproep reageer. “Ek het die hond by ’n jong man se huis opgespoor. Die jong man was baie deurmekaar en histeries. Hy wou nie dat ek die hond help nie.”

Die DBV moes die polisie ontbied sodat die hond gehelp kon word. Na bewering het die jong man probeer om te verhoed dat enigiemand naby aan die hond kom.

Die jong man het aan Matthee gesê dat hy ’n liggaamsbouer is wat aanvullings gebruik en wou sy krag toets. Hy het na bewering op sosiale media gesien hoe jy jou krag kan toets en het later op die internet gekyk hoe sterk bene is en hoeveel krag dit sal neem om ’n been te breek. Hy het toe na bewering sy hond geroep en so die hond se been gebreek. Die hond se been is na bewering so erg gebreek dat dit deur die vleis gesteek het.

Matthee sê hy het nog nooit so iets gesien nie. “Dit was gruwelik.”

Die jong man is in hegtenis geneem en die hond is na ’n veearts geneem vir behandeling.