Die Phakisa-projek fokus op die belangrikheid van die oseane in die groei van die ekonomie om armoede, ongelykheid en werkloosheid te verminder. Die projek is in die kusgebiede van Port Nolloth, Alexanderbaai, Hondeklipbaai en Groenriver uitgevoer.
Die projek het op Donderdag 12 Desember begin en is op Maandag 16 Desember 2019 afgesluit.
Fokuspunt
Die fokusareas van die Phakisa-projek is om onwettige aktiwiteite in verband met mariene-oortredings en onwettige sandmynbou aan te spreek. ’n Geïntegreerde multidissiplinêre benadering is gevolg en verskillende eksterne rolspelers het aan die projek deelgeneem.
Die aksies tydens die projek het onder meer stop-en-deursoekings, misdaadvoorkoming, nakomingsinspeksies, besoeke aan die plaaslike hawe, lanseringspaaie en glypaaie, handhawing deur nakomingsinspeksies van mariene en kuswetgewing, die inspeksie van vissersbote en onwettige sandmynbou ingesluit.
Voldoeningsinspeksies is uitgevoer by verskillende drankwinkels, besighede en myngebiede, sowel as seepatrollies langs die kuslyn van Port Nolloth en Alexanderbaai.
Brig. Mohale Ramatseba, woordvoerder van die Noord-Kaapse polisie, bevestig menige boetes vir die besit van rotskreef, bestuur sonder lisensie, onwettige jag in ’n beskermde gebied, onwettige mynbou en ander oortredings is uitgereik.
“Daar word ook opgemerk dat minder misdade gedurende hierdie tydperk aangemeld is as gevolg van die hoë polisiesigbaarheid en die verskerpte polisiëring op Port Nolloth en omliggende gebiede. Die polisie in die provinsie draai die gety teen misdaad hierdie feestyd,” sê Ramatseba.











