VRYSTAAT – Die oorskot en Spider Man-sandaaltjies van ‘n seuntjie is Vrydag 13 Desember in ’n veld in die Oos-Vrystaat gevind. DNS-ontleding moet nog gedoen word om te bepaal of dit die lyk van Liam Nortjé (2) is. Liam se ma, Cheinelle Brooks, het die sandale as haar seun s’n uitgeken.
Vermis
Liam het in November 2017 vermis geraak toe hy vir ’n naweek by sy pa op Kestell in die Oos-Vrystaat gaan kuier het. Cheinelle het ’n saak van ontvoering aanhangig gemaak op 21 November 2017 nadat sy na bewering ‘n oproep van Nantes Nortjé ontvang het wat haar ingelig het dat sy hom of Liam nooit weer sal sien nie. Hy het haar toe na sy huis op Kestell gestuur waar sy ‘n brief gevind het waarin hy sê dat nie sy of Liam se twee sussies ooit weer vir Liam of Nantes sal sien nie. ’n Stuk van Liam se hare is ook na bewering in die kamerasak gevind.
Pa gevonnis
Nantes Nortjé is op 19 Julie in hegtenis geneem op aanklag van die moord van sy 2-jarige seun. Nortjé het onskuldig gepleit op die aanklagte teen hom en het nie tydens sy verhoor getuig nie.
Regter Corné van Zyl het op Woensdag 11 Desember in die Hooggeregshof op Harrismith bevind dat die staat bo redelike twyfel bewys het dat klein Liam vermoor is. Tog is geen bewys van ’n liggaam gevind nie. Nantes Nortjé is gevonnis tot lewenslange tronkstraf weens die moord en onderskeidelik drie jaar, nege maande en vyf jaar vir die drie aanklagte van aanranding.



