Liefde blom steeds na 338 dae in hospitaal

Deel hierdie storie / Share this story

Die liefde tussen Leon (58) en Alta (55) staan sterk nadat die mat in minder as ’n maand na hul troue onder hulle uitgeruk is. Hulle gesels met FiND iT oor die moeilike tyd waardeur hulle is, hulle liefde vir mekaar, die pad na herstel en God se genade.

Die paartjie vier vandag hulle eerste huweliksherdenking en vertel hulle storie vir FiND iT uit die Dulcé Cafe in Gariep MediClinic, waar personeel vir Leon gehelp het om sy vrou te verras.

41 jaar

Leon en Alta ken mekaar al 41 jaar. Hulle was mekaar se eerste skoolliefde, maar hulle paadjies het nie lank daarna nie geskei. Soos die lewe dit wil hê, het hulle paadjies 11 jaar gelede weer gekruis. Hulle het weer liefde by mekaar gevind na egskeiding en die afsterwe van Alta se oorlede man.

Nege keer gevra om te trou

Leon het Alta in die laaste 11 jaar nege keer gevra om met hom te trou. Sy het elke keer nee gesê. Volgens Alta was die tyd net nie reg nie. Op 7 November 2018 het Alta vir Leon ’n kaartjie gestuur wat sy en haar dogter gemaak het. Dit was ’n uitnodiging na hulle troue, wat op 15 Desember 2018 sou plaasvind. “Hy het my bly vra of ek ernstig was. Ek het vir hom gevra: ‘Is jy in of is jy uit?’, vertel Alta met ’n sprankel in haar oë.

Iets is nie reg nie

Na hulle troue het Alta op 8 Januarie 2019 van Boksburg na Blackrock verhuis om by Leon te wees. Drie dae na haar aankoms het Leon uit die kombuis vir Alta geroep. “Iets is nie reg nie,” het hy vir Alta gesê. Hy kon sy arms optel, maar kon nie die beker melk uit die yskas haal nie. Dit is toe wat hy vir Alta vra om hom hospitaal toe te neem.

By die hospitaal op Kathu is daar ’n diagnose gemaak dat hy ’n newe-effek het van ’n kombinasie pille, waaronder ’n spierverslapper was, wat hy gedrink het. Die hospitaal het hom begin behandel daarvoor, maar Leon het geweet iets anders is groot fout.

Gariep MediClinic in Kimberley

Hy het vir Alta gevra dat hy Kimberley toe gebring moet word. Hy wou ’n sekere dokter daar gaan sien omdat hy self begin vermoed het hy ly aan Gullain Barré-sindroom. “Ek het die tekens herken omdat iemand na aan my daarmee gediagnoseer is,” vertel Leon.

Leon is op 13 Januarie deur ’n ambulans na MediClinic in Kimberley gehaas. Tydens die rit en met die aankoms by die hospitaal het die personeel vermoed dat Leon dit dalk nie gaan maak nie.

Ergste graad van Gullain Barré

Hy is gediagnoseer met die ergste graad van Gullain Barré-sindroom. Tydens die voorval het hy sy bewussyn verloor en is in die intensiewesorg-eenheid opgeneem. Leon se hele liggaam was verlam en hy kon nie self asemhaal nie.

Leon vertel dit is net met die Here se genade dat hy vandag hier kan sit en met ons gesels.

Lang pad na herstel

Oor die laaste 11 maande het Leon en Alta ’n lang pad na herstel gestap, maar die pad is nog nie voltooi nie. Dit het lank gevat vir Leon om sy bewussyn te herwin en maande voordat hy sy oë kon oopmaak. Hy het stelselmatig begin om te herstel en kon later sy kakebeen liggies beweeg.

Alta wys vir FiND iT op haar foon foto’s en ’n video van hoe Leon stelselmatig vordering gemaak het. Leon het gereël dat Alta ’n bos geel rose vir hulle huweliksherdenking kry terwyl hulle na die hospitaal se Dulcé Cafe gegaan het om koffie te drink. “Ons het geel rose op ons troue gehad. Hoe wonderlik is die verrassing nie,” sê Alta.

Leon kan al klein bewegings met sekere van sy ledemate maak. Hy kan sy arms oplig, maar nog nie iets met sy hande vat nie.

Die vrou agter die man

Leon vertel emosioneel aan FiND iT hoe sy vrou hom bygestaan het. “As dit nie vir my vrou en die Here se genade was nie, was ek nie hier vandag nie. Daar is nie ’n vrou in die wêreld wat my so sou bystaan soos hierdie vrou het nie. Sy sit dag in en dag uit by my. Dit maak dinge vir my makliker om te weet ek het iemand soos sy.”

Wat was vir hulle die moeilikste?

“Dit was vir my baie erg om vir ’n jaar lank net op een plek, in een bed te lê. Ek was altyd baie aktief. Dit is erg om nie te weet hoe lank dit nog gaan neem of hoe lank ons nog hier gaan wees nie. Ek mis dit verskriklik om rugby af te rig,” sê Leon. Leon het onderwys by Laerskool Blackrock gegee voor hy siek geword het.

“Vir my was dit die ergste om hom te sien swaarkry en ek kan niks doen nie. Ek self voel magteloos. Al wat ek kan doen, is bid,” sê Alta.

Rehabilitasie

Daar word beoog om Leon na ’n rehabilitasiesentrum in Bloemfontein te stuur om verder te herstel.

“Ons het net die beste, wonderlikste diens by die hospitaal ontvang. Elke liewe persoon hier het ons vriendelik en met respek behandel. Jy kan sien dit is mense wat regtig omgee. Die mense het uit hulle pad gegaan om ons te help,” vertel Alta van Gariep MediClinic se diens.