Munisipaliteit ruim “dwelmhawe” op in woonbuurt

Deel hierdie storie / Share this story

BEACONSFIELD – Ockert Fourie, DA-raadslid van wyk 25, en werkers van die Sol Plaatje-munisipaliteit het vroegdag met ’n skoonmaakaksie in Beaconsfield begin wat daagliks tot 18 Desember in verskeie buurte gaan herhaal word.

Alhoewel Fourie met verlof is, het hy ’n gedeelte van sy vakansie opgeoffer om die werkers te help om probleemgebiede in dié buurt te takel.

Hy sê hulle het vroegoggend onder in Bartleplek begin. Hulle volgende teiken is ’n gebied in Kaapstadweg. 

“Die gebied langs die treinspoor het ’n nes geword vir kwaaddoeners waar daar alle tipe dwelms misbruik word. Dit het ook ’n algemene stortingsterrein geword waar almal dink hulle mag stort,” verduidelik Fourie.

Die opruimingsspan wil ook die laning tussen Engen-vulstasie en Cheers Pub & Grill in Mainstraat, die veld in Herculesstraat by BUCO, die oop terrein in Pullingerstraat by Econo Foods, asook ander buurte, onder andere Diamond Park, opruim.

“Die oop terrein in Klisserville by Econo Foods het ook ’n hawe geword vir kwaaddoeners en dwelmsmokkelaars.”