Roxette-sangeres Marie Fredriksson oorlede

Deel hierdie storie / Share this story

Die sanger van die treffer Listen to your heart is Maandag 9 Desember op 61-jarige ouderdom in die hospitaal oorlede aan komplikasies met ’n langdurige siekte.

Familie praat uit

’n Verklaring wat deur die familie van Marie uitgereik is, lui: “Dit is met hartseer dat ons moet aankondig dat een van ons grootste en mees geliefde kunstenaars weg is. Marie Fredriksson is op die oggend van 9 Desember oorlede.”

“Marie Fredriksson word die meeste deur haar man Mikael Bolyos en hul twee kinders gemis.”

Groot treffers

Die Sweedse sangeres was deel van die groep Roxette saam met Per Gessie en die duo het in die 80’s en vroeë 90’s groot popsukses geniet met enkelsnitte soos The Look, Joyride en Dressed For Success.

Die treffer It Must Have Been Love verskyn in die film Pretty Woman in 1990 waarin Julia Roberts en Richard Gere gespeel het.

Marie is in 2002 met ‘n breingewas gediagnoseer en het vir ’n rukkie ophou optree op dokters se advies, maar sy het in 2009 herstel van die toestand en het weer saam met Roxette opgetree.

Volgens berigte in Swede sal Marie in ’n privaat seremonie begrawe word met slegs hegte familie en vriende.