VRYSTAAT – Die polisie het Donderdag omstreeks 23:00 in die stad Sasolburg op ’n sake-inbraak gereageer en ’n skietgeveg tussen die polisie en die verdagtes het ontstaan. Twee verdagtes is in hegtenis geneem en een is noodlottig geskiet tydens dié voorval.
Die voorval het gebeur toe die eienaar van die supermark ’n alarmwaarskuwing ontvang het van die veiligheidsmaatskappy wat sy perseel bewaak. Hy het onmiddellik die polisie gekontak wat vinnig reageer het. Die eienaar het die perseel vir die polisie geopen om vir indringers te kyk en ondersoek in te stel.
Onkant betrap
Terwyl hulle op die eerste verdieping was, het lede twee rowers verras en een van die verdagtes het begin skiet. Een polisiebeampte is gewond. Die lede het terug gevuur en het ’n 27-jarige verdagte dodelik gewond. Een verdagte het met ’n onbekende bedrag kontant van die toneel gevlug. Versterkings is in die vorm van die Tactical Response Team en K9-eenheid ontbied wat gelei het tot die inhegtenisneming van nog twee verdagtes van 27-en 33 jaar oud wat in die kantore weg gekruip het.
Polisielid hospitaal toe gehaas
Die beseerde lid is in ’n stabiele toestand na die hospitaal gehaas en die twee verdagtes is deur die polisie in Sasolburg aangehou.
Dit is nie bekend hoeveel verdagtes in die gebou was of by die inbraak betrokke
was nie. Die ondersoek duur voort.
Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om die A/O Shaun Paeschel by 074 110 6414 te kontak of die SAPD se misdaadstop by 08600 10111 te kontak.



