Baba (agt dae oud) vermis

Deel hierdie storie / Share this story

RICHARDSBAAI – Megan de Lange se ma is in ’n toestand vandat haar agt dae oue babadogtertjie Donderdagoggend om 05:10 uit haar woning in Meerensee, Richardsbaai ontvoer is. Die dogtertjie is laas gesien in ’n pienk frokkie met ’n grys broekie. Plakkate oor die vermiste baba is deur Bianca van Aswegen van die reddingsorganisasie “Missing Children SA’’ uitgereik.

’n Emosionele Jolene de Lange (23) sê dit gaan werklik nie goed met haar nie. Sy pleit dat die man wat na bewering vir Megan ontvoer het, asseblief haar dogtertjie veilig by haar of die polisie sal terugbesorg. Hy het vir Megan sonder Jolene se toestemming by haar weggevat.

Volgens kapt. Debbie Ferreira word ’n klag van ontvoering nou ondersoek, aangesien Megan steeds nie gevind is vandat sy Donderdagoggend 5 Desember as vermis by die polisie aangemeld is nie. Jolene is tans saam met die polisie op soek na die man en haar baba.

Kapt. Ferreira sê hulle kinderbeskermingseenheid op Empangeni het nou die saak oorgeneem. Hulle doen ’n beroep op die publiek om hulle te help met enige inligting wat na Megan kan lei.

Jolene sê as sy nou ’n vraag aan die vermeende ontvoerder kon vra, sou sy net kon sê: ‘’Ek’t nie woorde nie – ek soek net my babatjie terug.”

Enigiemand met inligting word versoek om asseblief die Richardsbaai-polisie by 035 901 2400 te skakel of Stop Misdaad by 08600 10111.