Tien by toetsstasies vas vir verkoop van lisensies

Deel hierdie storie / Share this story

LIMPOPO. – Tien mense sal vandag in die hof hier verskyn omdat hulle glo bestuurslisensies teen sowat R8 600 verkoop het.

Volgens Maroela Media se berig is die verdagtes Donderdag tydens ’n klopjag op toetsstasies in Malamulele en Mutale in hegtenis geneem.

“Dit volg te midde van ’n ondersoek deur die Valke in samewerking met die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) in ’n poging om korrupte bedrywighede by toetsstasies in dié provinsie hok te slaan,” word berig.

Luidens die berig het die ondersoek onthul dat hierdie lisensies vir minstens R8 600 per lisensie verkoop is.

“Die verdagtes sluit ’n senior lisensiebeampte, drie eksaminators, twee klerke, ’n kassier, ’n instrukteur, ’n algemene werker en ’n middelman in,” word berig. “Die verdagtes sal onderskeidelik in die landdroshowe op Malamulele en Mutale verskyn.”