KIMBERLEY – Groot ontsteltenis het vandeesweek hier geheers na beweringe dat sommige skole rapporte wil weerhou weens wanbetaling van skoolgeld.
Geoffrey van der Merwe, provinsiale woordvoerder vir die departement van onderwys, sê dit is onwettig om rapporte te weerhou weens wanbetaling van skoolgeld. “Indien dit gebeur, vra ons dat ouers ons daarvan in kennis stel.”
Van der Merwe sê hy is nie bewus van enige skole in die Noord-Kaap wat rapporte weens wanbetaling van skoolgelde weerhou nie.
FiND iT lesers het teen die beweringe uitgevaar en gesê as ’n skool ’n rapport weerhou omdat skoolgelde agterstallig is, dit “ongrondwetlik” sal wees. Ander lesers het gemeen dit is net regverdig, want “hoekom moet ander mense jou kind se skoolgeld dra?”.



