Bejaardes raak verlief op jonges – word uitgebuit

Foto: Pixabay

NASIONAAL. – Inwoners regoor Suid-Afrika moet versigtig wees dat hulle nie in die Sweetheart Scam-strik trap nie.

Mike Bolhuis, van Specialized Security Services (SSS), sê hulle ontvang al hoe meer gevalle waar bejaardes vasgevang word in ’n verhouding met ’n jonger man of vrou.

Baie van dié verhoudinge wat na SSS verwys word vir ondersoek, word aangeknoop onder valse voorwendsels omdat die bejaarde persoon welgesteld, geskei of ’n weduwee is.

Verlief

“Die res van die gesin vertrou gewoonlik nie hierdie persoon waarmee hulle ouer in ’n verhouding is nie. Teen daardie tyd is die eensame en bejaarde ouer reeds verlief en luister nie na enige redenasies nie,” sê Bolhuis.

Hy sê die Sweetheart Scam is een van die algemeenste maniere om ’n slagoffer vir finansiële gewin as prooi te maak. Dit is ’n skema wat aanlyn of persoonlik gedoen kan word.

Web van leuens

“Die oortreders het die ouer se lewe so geïnfiltreer dat hulle hul toewyding, lojaliteit en vertroue gewen het. Hulle draai ’n web van uitgebreide leuens en beloftes en selfs al het hulle al die geld spandeer of verloor, sal hulle voortgaan met hulle planne en die bedrog. Hulle sal ’n ander slim stelsel uitdink oor hoe hulle die verlore geld sal terugkry of selfs verdubbel en dan, as die laaste sent spandeer word, sal hulle spoorloos verdwyn.”

Volgens Bolhuis gebruik hierdie persoon jou emosies, wil hy die verhouding vinniger as normaal laat beweeg, sy verhaal maak gewoonlik nie sin nie en hy is gewoonlik baie ongeduldig.

Onskuldige mense

Hy het gesê mense moet bedag wees op dié nuwe slenter wat gebruik word om onskuldige mense uit te buit.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *