TikTok oor versameling van kinder-data gedagvaar

Deel hierdie storie / Share this story

INTERNASIONAAL – Die moedermaatskappy van TikTok, ByteDance, word gedagvaar nadat hulle glo die wet op kinders se privaatheid oortree het.

Die data van jong gebruikers is glo via die video-toep, wat voorheen Musical.ly genoem was, versamel.

ByteDance, ’n Chinese maatskappy, het Musical.ly in 2017 aangekoop en dit na TikTok hernoem, wat ’n baie populêre sosialemedia-platform geword het.

Volgens die klagte wat op 3 Desember ingedien is, het ByteDance “sedert ten minste 2014” data van Musical.ly-gebruikers onder die ouderdom van 13 sonder die uitdruklike toestemming van hul ouers versamel en die inligting aan derdeparty adverteerders verkoop.

Die Amerikaanse Children’s Online Privacy Protection Act, oftewel COPPA, verbied sosialemedia-ondernemings om die inligting van kinders sonder uitdruklike toestemming van die ouer in te samel. Indien toestemming nie eers verkry word nie, sou dit ’n oortreding van die wet wees. Die maatskappy kan deur reguleerders soos die Federal Trade Commission (FTC) vervolg word.

’n Woordvoerder van TikTok het aan The Verge gesê die maatskappy is gekant teen die aanklag wat gemaak word.

Volgens The Verge is dit die nuutste in ‘n vlaag van beskuldigings teen die Chinese maatskappy. ByteDance het reeds vroeër hierdie jaar ‘n skikking van $5,7 miljoen oor COPPA-oortredings van Musical.ly met die FTC bereik. 

YouTube het ook in September ‘n skikking met die FTC bereik oor soortgelyke bewerings, wat ‘n boete van $170 miljoen opgelewer het.